Print

Leesstof en Artikels

Junior Jagopleiding 2009 (Neels Meyer)

Suid-Kaap Jagters Bestuur - Friday, January 22, 2010

Dit was beslis ‘n ervaring wat ons lank sal by bly.” “Ons het so baie geleer en ook dinge gesien wat ons andersins nie sou nie.” “Ons het baie geleer, lekker geëet, gesels, maats gemaak, lekker gejag, rooi sand gesien, koud gekry, om kampvure gesit, natgereën, kombuisdiens gedoen, geslag, hout bymekaar gemaak, spooruitkenning, prêt gehad en onder die swarthaak deurgeloop

” Hierdie is maar ‘n paar voorbeelde van terugvoer wat ons ontvang het van studente ná afloop van die Winterskool wat vanjaar plaasgevind het vanaf 10 – 18 Julie op ‘n plaas naby Postmasburg in die Noord–Kaap oftewel Kamp Nimrod. Hierdie kursus het reeds op nasionale vlak bekendheid verwerf en neem steeds toe in gewildheid, omdat dit prakties onder veldtoestande aangebied word. Ons slaap in tente, etes kom uit ‘n veldkombuis en wasgeriewe moet ons self oprig. Elke oggend word die dag afgeskop met spoorsny en waarneming in die veld om vas te stel watter beweging onder diere en insekte die nag plaasgevind het. Ongelooflike lesse word daaruit geleer.

Van die môre tot die aand word studente besig gehou met alle fasette van jag en bewaring in die praktyk. Praktiese skiet maak natuurlik deel uit van opleiding en werk op na ‘n hoogtepunt wanneer elke student die geleentheid kry om sy/haar eie bok te jag en self te skiet. Almal was suksesvol – met pragskote boonop!

Praktiese vleisverwerking volg na afloop van die jag. Elke jong jagter moet sy bok self afslag, ontwy en in stukke sny. Biltongen worsmaak volg en personeel is eers tevrede wanneer als klaar verpak en veilig in die koelkamer gestoor lê.
Dit is ‘n belewenis om saam met die jong manne vir ‘n week, soms onder moeilike omstandighede, te kan wees. Hul samewerking en optrede in groepsverband bewys weereens dat daar baie leiers onder ons jeug is. Hulle sal spoorsny…ons moet net sorg dat daar vir hulle duidelike spore is om te volg.

Baie dankie aan al ons borge en die opleidingsbeamptes wat hierdie ekskursie moontlik gemaak het. Dit was ‘n belegging in ons jeug wat vorentoe nog vele vrugte sal afwerp

Outdoor World
Margot Swiss
Outdoor World