Print

Leesstof en Artikels

Opening van Jaarvergadering deur ds Floors Meyer

Suid-Kaap Jagters Bestuur - Friday, November 19, 2010

SJB Jaarvergadering - Nov 2010

Waar trek ons nou?

Dit sal die moeite werd wees om ’n skoot te vra: waar trek ons nou ten opsigte van die groot prentjie in die geskiedenis van Ruimteskip aarde? Sonder om op volledigheid aanspraak te maak, kan ons die volgende belangrike punte oorweeg:
1. Argeoloë beweer dat ons in die geskiedenis van moeder aarde reeds vyf groot uitsterwings beleef het.

a. Die eerste groot uitsterwing staan bekend as die “Ordovician event”. Dit het ongeveer 440 milj jaar gelede plaas gevind. Wetenskaplikes is nie honderd persent seker wat die oorsaak daarvan was nie – dit het so lank terug gebeur dat ons nie die spore daarvan meer so duidelik kan sien nie. Wat ons wel weet is dat die mens nie daarvoor verantwoordelik kon gewees het nie, want ons was
toe nog nie op die toneel nie. Die gevolge van die gebeure was egter dat 57% van die genera van die lewende wesens wat toe bestaan het, uitgesterf het.

b. Die tweede uitsterwing word die “Devonian event” genoem. Dit het ongeveer 370 milj jaar gelede plaas gevind. Die oorsaak daarvan was na alle waarskynlikheid ’n globale klimaatsverandering. Die aarde het oor ’n relatiewe kort tydperk so vinnig afgekoel dat 70% van die spesies wat toe geleef het, nie daarin kon slaag om by die verandering aan te pas nie en het gevolglik
uitgesterf.

c. Die derde uitsterwing staan bekend as die “Permian event”. Dit het ongeveer 250 milj jaar gelede plaas gevind en was die grootste en omvangrykste uitsterwing van almal. Dit is weereens veroorsaak deur ’n globale klimaatsverandering. Die gevolg daarvan was dat 96% van die seediere en 70% van die landdiere uitgesterf het.

d. Die vierde uitsterwing het ongeveer 200 milj jaar gelede plaas gevind en staan bekend as die “Triassic event”. Die oorsaak daarvan is onbekend. Die gevolg daarvan was dat 55% van die seediere uitgesterf het.

e. Die vyfde groot uitsterwing het ongeveer 60 milj jaar gelede plaas gevind en word die “Tertiary event” genoem. Dié uitsterwing is veroorsaak deur die kataklismiese gevolge van ’n botsing tussen die aarde en ’n komeet – omtrent soos die komeet wat in die Vredefort koepel naby Parys geval het. As gevolg van die groot ekologiese veranderinge wat deur die botsing teweeg gebring is, het al die Dinosourusse uitgesterf.

f. Wetenskaplikes reken dat ons nou in die era van die sesde groot uitsterwing leef. Na verwagting gaan 15 000 van die lewende wesens wat nou aan ons bekend is, binne die volgende 20 – 50 jaar uitsterf. Die oorsaak van die uitsterwing is hierdie keer nie ’n kataklismiese natuurramp nie, maar die mens self. Die moderne mens trap ’n koolstof voetspoor waarin baie diere op die lang termyn nie kan oorleef nie. Dit is veral betekenisvol om te weet dat ’n moderne beskaafde westerling soos ons, se koolstof voetspoor 40% groter is as die
gemiddelde mens uit Afrika s’n.

2. ’n Mens kan met reg vra: waarom is juis die mens dié keer die oorsaak van die sesde groot argeologiese uitsterwing? Vanuit ’n Bybels-teologiese perspektief is die antwoord – en daar is nie ’n lekker Afrikaanse woord daarvoor nie – “greed”. In Afrikaans sou ons kon praat van hebsug, of grypsug. Die moderne mens soek die lewe ryker, duurder, luukser, gemakliker. Die moderne mens weet nie meer wanneer is genoeg voldoende nie. Mense leef derhalwe ’n leefstyl van oordaad. In die proses verkrag mense alles wat hulle kan uit moeder aarde uit in hulle versmagting na nog meer. Dit is “Greed”.

3. Daar moet egter agter die grypsug ’n dieper oorsaak wees vir die verkragting van die ekologie. Daarmee kan die Bybel ons help om die dieper rede te verstaan. Die Bybel vertel dat die lewe oor baie eeue soos ’n groot Shakespeare drama verloop. Die lewe speel aste ware in 6 groot bedrywe af:

a. Die eerste bedryf vertel waar kom ons vandaan. Ons bestaan is nie toevallig nie. Die ganse kosmos is gebou op ’n meesterplan, wat deur ’n “Divine Intelligence” ontwerp is. God het ons gemaak vir Hom.

b. Die tweede bedryf vertel van die ontsaglike breekspul toe mens sy verhouding met God opgesê het om self die beheer oor sy lewe oor te neem. Die Bybel gebruik ’n besondere woord om die breekspul mee te beskryf, nl. hamartanoo. Die Griekse woord beteken letterlik om jou doel te mis. Dis soos wanneer ’n mens ’n pyl uit ’n boog skiet. De pyl wil mos nie reguit trek nie – dit neig aanmekaar af grond toe, en val selfs kort van die teiken. Die Engelse vertaling sê sonde beteken “to fall short of God’s glory.”

c. Die derde bedryf vertel hoe God telkemale probeer het om die breekspul te herstel. So moes Noag in opdrag van God ’n skip bou om die spul te probeer red. Later moes Moses weer de volk uit die slawerny van Egipte lei. Toe dit nie wou werk nie, roep God vir Abraham om sy land te verlaat en elders ’n nuwe begin te gaan maak. Dan is daar nog die verhaal van Nebukadnesar…

d. Die vierde bedryf in die groot drama van die lewe vertel hoe Jesus self die ontsaglike prys vir die breekspul kom betaal het.

e. Die sede bedryf, opgeteken in die laaste boek van die Bybel, Openbaring, vertel waarheen ons oppad is: die dag wanneer Jesus terugkom om sy eer te kom herstel. Dié bedryf vertel van die herskepping van die aarde. Die strate van die nuwe stad is van goud. En die woonplek van God sal dan by Sy mense wees – vir altyd. Maar ons is nog nie daar nie. Dit kom nog.

f. Die vyfde bedryf is die era waarin ons nou leef. Ons moet nou hierdie toneel uitspeel, voordat die nuwe aarde kan kom. En die sleg deel van die storie is dat ons in die bedryf nie toeskouers is wat rustig agteroor sit en kyk wat alles gebeur nie. Ons is die akteurs. Ons is die deelnemers in dié bedryf. Ons is nou op die verhoog. Ons skryf die geskiedenis nou. Die “destiny” van die
aardbol is in ons hande!

4. En kenmerkend van die era is die ongelooflike “greed” waarmee baie van die akteurs in dié bedryf speel. Maar daar sit iets agter die “greed”. Baie akteurs het hulle eskatologie verloor. Hulle neem aan die vyfde toneel deel asof dit die laaste een is. Hulle het nie ’n toekomsverwagting nie. Trouens, vir baie van die deelnemers ís daar nie ’n toekoms nie. Daar is net ’n nou. Hulle speel vir die oomblik. Daarom moet hulle nou alles gryp wat hulle kan, want daar is nie ’n môre nie. Daar is nie ’n eendag nie. Daar is nie God se dag nie. Baie akteurs in dié bedryf het hoop verloor, want hulle het hulle God kwyt geraak.

5. Die Bybel is die teks vir die drama van die lewe. Dit vertel waar kom ons vandaan, en dit vertel waarheen is ons oppad. Teen die agtergrond van daardie dekor moet ons die toneel waarin ons nou is, uitspeel. Die eerste sin van die teks lui: “Aan die begin (letterlik: Genesis) het God gesê.” En die laaste sin van die teks lui: “Ek kom weer terug (letterlik: Maranata).” In die drama van die lewe het God die eerste en die laaste sê. Tussen daardie twee parameters moet ons nou die vyfde bedryf uitspeel. As ons vergeet waar kom ons vandaan en waarheen is ons oppad, sal dit eendag in die anale van die argeologie opgeteken staan: “Sesde groot uitsterwing. Oorsaak: mensdom. Hy het van die verhoog afgeval – short of God’s glory…”

Outdoor World
Bay Guns
Outdoor World