


Suid – Kaap Jagters – en Bewaringsvereniging het vanaf 8 – 11 – Julie weer die twee – jaarlikse skietopleidingskliniek vir hoërskoolseuns aangebied om jongmense, wat in die jagbedryf belangstel, te bemagtig, om eties korrek op pad na – en in die jagveld op te tree. Die kursusgangers was die eerste groep studente wat die nasionaal erkende CHASA – kursusdeurloop en suksesvol afgelê het.
Aangesien daar vir die afgelope sestien jaar sodanige opleiding deur hierdie aktiewe vereniging aangebied is, is Suid – Kaap jagters genader om leiding te neem met die daarstel van opleidingsmateriaal wat nasionaal deur jagtersverenigings gebruik gaan word.
Die persoon wat aan die spits staan vir die saamstel van die kursusse, is Neels Meyer, voorsitter van SJB. Hy het ‘n span saamgestel wat onderwerpe en aktiwiteite moes identifiseer wat sinvol, prakties en met oorgawe aan die jong jagters oorgedra kan word. Hierdie handleiding is reeds aan ander jagtersverenigings beskikbaar gestel. Om onder sy bekwame leiding oor provinsiale grense te kan uitreik, vereis deeglike beplanning, baie ure se toewyding, ‘n voortreflike liefde vir die sport en ‘n liefde vir jongmense in besonder.
Die doel van die kursusse is om diegene wat tot die jagsport wil toetree met die nodige kennis en toewyding voor te berei om etiese jag te bevorder, die beeld van die jagter uit te bou die natuur te waardeer en te bewaar en om die hand van ons Skepper in alles om ons te sien en te ervaar.
Kursusse wat aangebied word is ‘n naweek Veldskool vir laerskoolleerders, drie – dag skietopleiding, opgevolg met ‘n agt dae jagopleiding en die mentorjag om alles aft e rond.
Die groep studente wat die afgelope skietopleidingskursus deurloop het, kwalifiseer vir die junior jagopleidingskursus wat gedurende die 2011 wintervakansie in die Kalahari aangebied gaan word.
Enkele aktiwiteite wat plaasgevind het:
Veilige hantering en beweging met die jagwapen, storings en die regte hantering daarvan, vuurwapenveiligheid, skiettegnieke, baie skiet met .22’s en groter jagkalibers, die montering van teleskope en die instel van die jaggeweer, koeëltrajekte, vuurwapenversorging, boslaanskiet onder gesimuleerde jagomstandighede en vele meer.
Evaluasie van die student se belangstelling, verantwoordelike optrede, leierseienskappe en vordering t.o.v. praktiese skietvaardighede vind deurlopend plaas. Die kursus is afgesluit met die praktiese skiettoets op die rooibokteiken. Die voorgeskrewe slaagsyfer is 77%. Ons studente het ‘n gemiddeld van 86% behaal wat getuig van deeglike opleiding en entoesiasme.
Elke dag word afgesluit met ‘n warm stort, Johan Lindeque se aandetes uit die boonste rakke, evaluasie van die dag se gebeure deur Alvin Hayes en Mike Huber, kampvuurstories, lekker saamsing onder kitaarbegeleiding deur Dirk Black en seun Dirk jr. en aandgodsdiens met ‘n deurlopende tema, aangebied deur Elma Meyer.
Vir meer inligting rakende die kursusse, kan Neels gekontak word by: 0828248603.



Comments
Post has no comments.