Elke dag word babas gebore. Op die oog af lyk almal dieselfde, het almal dieselfde neigings en ruik selfs almal dieselfde. In die begin klein en onbeholpe, en dan die wonderwerk… almal is uniek. Tog gebeur dit dat nou en dan babas gebore word wat net anders is as die ander. Die afgelope twintig jaar was ek bevoorreg om verskeie van hulle te ontmoet. Mense wat nie net gebore is nie, maar ook geleef het, nie net vir hulself nie, maar ook vir ander en groot opofferings gemaak het vir dit waarin hulle glo en waarvoor hulle ‘n passie het. Ek verwys hoofsaaklik na ledebetrokkenheid by SJB wat twintig jaar gelede ook ‘n baba was en danksy hierdie spesiale mense gegroei het tot die vyfde grootste jagtersvereniging binne CHASA. ‘n Unieke vereniging met unieke, lojale, lede. Een groot familie. Altyd bly om mekaar te sien en altyd bereid om te help waar hulle kan. Twintig jaar gelede het ‘n klein beriggie in die plaaslike koerant my aandag getrek.
‘n Jagtersvereniging vir die Suid-Kaap word op Oudtshoorn gestig. Iets vreemds in ons geweste waar jag ongeorganiseerd plaasgevind het en dikwels gebruik is as vergoeding vir ‘n guns of om die goedgesindheid van iemand wat jy vorentoe mag nodig kry te behou met bewaring ver in die agtergrond. Gelukkig was daar twintig jaar gelede bekommerde, vêrsiende mense wat die behoefte gehad het om hierdie stigma wat aan jagters in die Suid-Kaap gekleef het om te swaai tot ‘n baie mooier prentjie deur die stigting van SJB. Vandag is die lede van hierdie aktiewe vereniging die hoof- rolspelers in natuurbewaring en die volhoubare benutting van die fauna en flora in ons streek.



Comments
Post has no comments.