Dit is vir die jagbedryf belangrik om te weet watter ondersteuning jag onder die algemene publiek geniet. Aan die een kant van die geveg is die jagters, wat besef dat die jagbedryf noodsaaklik is om die toekoms van wild te verseker, en aan die ander kant is die diereregte-aktiviste wat alles in hul vermoë sal doen om die georganiseerde jagbedryf stop te sit. Hierdie diereregteorganisasies oefen gereeld druk uit op regerings om jag te verban deurdat hulle doelbewus die indruk skep dat hul standpunt die steun van die oorgrote meerderheid van die publiek geniet, terwyl jagtersverenigings slegs ‘n klein handjie vol jagters verteenwoordig.
Onlangse navorsing wat gedoen is onder die ekonomies aktiewe publiek in Port Elizabeth, het getoon dat die meerderheid van die publiek (53%) ten gunste van jag is, terwyl 21% neutrale gevoelens gehad het teenoor jag en slegs 26% gekant was daarteen. ‘n Belangrike bevinding was dat mense wat gekant is teen jag in twee groepe verdeel kan word. Die eerste groep was van mening dat hulle slegs persoonlik ‘n afkeur in jag gehad het en dat ander mense die reg behoort te hê om te jag indien hulle wou. Gevolglik kan hierdie mense dus nie werklik beskou word as ‘n ernstige bedreiging vir die jagbedryf nie. Die tweede groep mense is werklik gekant teen jag en was van mening dat niemand ooit toegelaat moet word om te jag nie. Alhoewel hierdie mense slegs 15% van die publiek verteenwoordig het, kan hul beskou word as ‘n werklike bedreiging vir die jagbedryf. Hierdie resultate dui daarop dat slegs ‘n klein persentasie van die publiek jag werklik sosiaal onaanvaarbaar vind.Wat demografiese faktore aanbetref het geslag die mees noemenswaardige invloed op die publiek se standpunt teenoor jag. Vrouens was aansienlik meer gekant teen jag as mans. Terwyl 40% van vrouens gekant was teen jag, was slegs 14% van mans gekant daarteen. Verder, 68% van mans was ten gunste van jag, terwyl slegs 35% van vrouens ten gunste was daarvan.
Die gedeelte van die publiek wat gekant was teen jag, is meestal van mening gewees dat jag wild bedreig (54%), dat dit moreel verkeerd is om ‘n dier dood te maak (51%), dat die dier pyn moet verduur (47%), dat hulle lief is vir diere (31%), omdat diere gebruik word tot die voordeel van mense (27%), dat jagters hulself swak gedrag (19%), sowel as dat jag ‘n gevaarlike aktiwiteit is (17%). Dit is belangrik om te besef dat hierdie bevindinge vir ons wys hoe jag lyk uit die oogpunt van mense wat daarteen gekant is.
Die meerderheid van die publiek (78%) was van mening dat jag potensieel voordelig vir wildpopulasies kan wees indien dit op ‘n verantwoordelike wyse gedoen word, terwyl slegs ‘n klein gedeelte van die publiek (12%) van mening was dat jag geensins voordelig vir wildpopulasies kan wees nie. Dit toon dat die publiek die potensiële voordele wat jag inhou vir wildpopulasies grootliks erken. Ten spyte hiervan is bevind dat steeds 41% van die publiek geglo het dat jag ‘n bedreiging inhou vir die voortbestaan van wild. Hierdie bykans teenstrydig resultate dui daarop dat, alhoewel die publiek die potensiële voordele wat jag inhou vir wildpopulasies grootliks erken, baie steeds van mening is dat jag nie sy potensiaal om voordelig vir wildpopulasies te wees bereik nie, moontlik omdat hul glo jag word op ‘n onverantwoordelike of onvolhoubare wyse gedoen.
Dit impliseer dat ‘n groot gedeelte van die publiek waarskynlik nie bewus is van die baie bydraes wat jag tot bewaring maak nie. Die boodskap moet dus aan die publiek oorgedra word dat jag op ‘n verantwoordelike en volhoubare wyse geskiet, en die bydraes wat die jagbedryf tot bewaring maak moet uitgelig word.
Verder het die navorsing getoon dat negatiewe houdings teenoor jag hoofsaaklik die gevolg is van wanpersepsies wat mense oor jag het. Negatiewe houdings teenoor jag was hoofsaaklik gebaseer op die wanpersepsie dat jag ‘n bedreiging inhou vir die voortbestaan van wild. Mense met hierdie opvatting was nege keer meer geneig om te voel jag behoort onwettig verklaar te word (36%) as diegene wat van mening was dat jag geen bedreiging inhou vir die voortbestaan van wild nie (4%). Nog ‘n belangrike wanpersepsie waarop negatiewe houdings teenoor jag gebaseer word, is dat jag nie ‘n belangrike deel vorm van wildbestuur nie. Mense met hierdie opvatting was byna tien keer meer gekant teen jag (71%) as diegene wat besef dat jag ‘n noodsaaklike deel is van wildbestuur (7%). Dit is belangrik om te besef dat mense se houdings teenoor jag beïnvloed kan word deur hul bloot te stel aan inligting wat ‘n verandering in hul onderliggende persepsies oor jag kan bewerkstellig. Dus kan die publiek se houdings teenoor jag positief beïnvloed word deur mense se wanpersepsies oor jag aan te spreek en deur die belangrikheid van jag in die bestuur en bewaring van wild te beklemtoon.
Jagters het die potensiaal om mense se houdings teenoor jag positief te beïnvloed. Die opname het getoon dat die mate van ‘n persoon se blootstelling aan jag ‘n beduidende invloed het op ‘n persoon se houding teenoor jag. Mense wat nooit tevore enige direkte blootstelling aan jag gehad het nie, was vyf keer meer geneig om gekant te wees teen jag (35%) as diegene wat wel voorheen direk aan jag blootgestel was (7%). Dit is waarskynlik omdat iemand wat nooit vantevore blootstelling aan jag gehad het nie, gevolglik nie in staat is om ‘n akkurate begrip van jag te vorm nie en dus meer geneig is om ‘n wanpersepsie van jag te hê. Daar is ook gevind dat sosiale verbintenisse ‘n beduidende invloed op ‘n persoon se houding teenoor jag het. Die opname het aangedui dat mense wat familie of vriende het wat jag (selfs al is hulle nie self jagters nie), baie meer geneig is om ten gunste van jag te wees (66%) as diegene wat geen familie of vriende het wat jag nie (37%). Dit is waarskynlik omdat ‘n persoon wat familie of vriende het wat jag, ‘n goeie begrip het van waaroor jag werklik gaan en bewus is van die voordele wat jag inhou. Dit is dus duidelik dat indien die publiek se houdings ten gunste van jag beïnvloed wil word, daar ‘n beter begrip van jag by hulle gekweek moet word.
Pieter van Niekerk
Voorsitter



Comments
Post has no comments.