Print

LOOD IN WILDSVLEIS KLAARBLYKLIK NIE SO 'N GROOT PROBLEEM

21-Sep-2016

LOOD IN WILDSVLEIS KLAARBLYKLIK NIE SO ‘N GROOT PROBLEEM!

Deur Jokl le Roux

 As kind het ek, en baie ander windbuks-jagters, gereeld ‘n voorraad loodkoeëltjies tydens ‘n jag sommer in die mond gebêre, om dan net later ‘n paar koeëltjies te mis, wat onbewustelik ingesluk is!  Stories oor latere onvrugbaarheid a.g.v. loodvergiftiging het die rondte gedoen, maar ek en al my pelle wat met windbukse voëls gejag het, het almal ‘n gesonde nageslag.

 Vir die afgelope dekade of twee word jagters gereeld gekonfronteer met publikasies waarin die nadelige gesondheidsimplikasies van lood afkomstig van loodkern koeëls in wildsvleis, beklemtoon word.  Baie jagters het as gevolg daarvan oorgeslaan na monolitiese (veral koper of geelkoper) koeëls, wat weer komplikasie kan inhou t.o.v. ballistiese gedrag van koeëls asook loop-lewe, veral in sekere kalibers, terwyl koper op sy beurt moontlik ander gesondheidsgevare mag inhou. 

 Nuwe wetenskaplik gefundeerde inligting het nou aan die lig gekom, wat daarop dui dat loodfragmente in wildsvleis nie werklik problematies t.o.v. die verbruiker se gesondheid is nie.  ‘n Onlangs gepubliseerde Sweedse studie oor “Lead in Game Meat – Bioaccessibility of metallic lead fragments” deur Professors Christer Holmgren en Ulf Qvarfort, wat aangebied is by die WFSA Volle Sitting 2013, het aangedui dat die biobeskikbare gedeelte van metaalagtige loodfragmente in die gastro-intestinale kanaal onbeduidend is vanuit ‘n gesondheidsoogpunt.  Die resultate van die navorsing het getoon dat slegs 1-2 % van toevallig ingeneemde loodfragmente in die maag omgeskakel kan word na opneembare vorme,  terwyl minder as 0.05 % in die intestinale buis omgeskakel kan word. 

Daar word gedink dat die gebruik van lood ammunisie vir jag ‘n beduidende gesondheidsgevaar vir jagters, hul families en ander verbruikers van wildsvleis kan inhou.  Die gemiddelde konsentrasies van metaalagtige lood wat waarskynlik in wildsvleis aanwesig mag wees, soos geskat deur die EFSA en BFR, is beduidend hoër as die limiete daargestel deur die EU vir beesvleis.

Lood-metaal, selfs in fynverdeelde vorm, kan egter - indien ingeneem – nie direk in die liggaam opgeneem word nie.  Dis slegs wateroplosbare lood-samestellings van vry lood ione wat in die liggaam se organe, weefsel, bloed en been geabsorbeer kan word, en dan in hierdie vorm gemiddeld slegs 20 % by volwassenes.

 Die vrystelling van biobeskikbare lood in die gastro-intestinale kanaal

Die resultate van die navorsing is verkry deur in vitro simulering.  Dit beteken dat weefselmonsters direk vanuit en rondom die wondkanaal van wildevarke geskiet onder normale jagtoestande onderwerp was aan ‘n chemiese prose soortgelyk aan dit wat in die mens se spysverteringsstelsel plaasvind.  Bestaande verslae dui daarop dat wildevark oor die algemeen, in Duitsland en ook wyer in Europa, gemiddeld 4.7 mg/kg metaalagtige lood in die eetbare gedeeltes van karkasse bevat.  As ons veronderstel dat die jaarlikse verbruik 18.2 kg wildsvleis is (91 porsies van 200 gram), beteken dit dat ‘n vrou van 60 kg onderworpe sal wees aan ‘n addisionele blootstelling van 3.92 mg/kg/bw/dag, bo en behalwe blootstelling vanuit ander voedsel.  Vir ‘n man wat 70 kg weeg sal die resultaat 3.35 mg/kg bw/dag wees.  Vergeleke met die EFSA se verwysingspunt vir die risiko van chroniese niersiektes (‘n inname van 0.63 mg/kg bw/dag), sal hierdie waardes onaanvaarbaar hoog wees.

Die beraamde vlak van lood wat in wildevarkvleis gevind word is egter verwant aan die gebruik van loodammunisie, met lood grotendeels in die vorm van metaal fragmente.  Gevolglik behoort die berekening van addisionele loodblootstelling deur die eet van wildsvleis, die hoeveelheid biobeskikbare lood in gedagte te hou wat, realisties gesproke, deur daardie fragmente in die spysverteringssisteem vrygestel kan word.  

 Die akkurate manier om loodblootstelling te bereken

Die herberekening gebaseer op die resultate van die studie wys dat slegs 1 % van 4.7mg/kg deur die liggaam opgeneem kan word.  Daarom, vir ‘n vrou van 60 kg, herlei dit tot 0.039 mg/kg bw/dag, en vir ‘n man van 70 kg tot 0.036 mg/kg bw/dag.  Dit kom ooreen met ongeveer 6.2 % van die huidige EFSA verwysingspunt van 0.63 mg/kg bw/dag.

Die EU het ‘n limiet van 0.1 mg/kg lood in beesvleis gestel.  Daar is geen soliede loodfragmente in hierdie tipe vleis nie.  Dis wel direk beskikbare lood in ioniese vorm, soos in normale voedsel.  Indien wildevarkvleis  (met 4.7 mg van metaalagtige lood /kg) vervang word met beesvleis (met ‘n konsentrasie van 0.1 mg biobeskikbare lood/kg), sal loodblootstellingvir ‘n 60 kg vrou 0.083 mg/kg bw/dag wees, en vir ‘n man 0.071 mg/kg bw/dag.  Hierdie blootstelling is dubbel soveel vergeleke met dit in wildevarkvleis!

In my dommigheid wonder ek nou of die polemiek van die afgelope dekade of twee oor die nadeel van die gebruik van lood-hael by die jag van voëls, nie ook op onwetenskaplike opvattings gebaseer is nie.  Heelwat lande het nou al hul voëljagters verplig om van staal-hael gebruik te maak, wat allerlei negatiewe nagevolge op die haelgewere se loop-lewe het en ballistiek negatief beïnvloed.  As dieselfde beginsels geld as wat in die wetenskaplike navorsing soos hierbo genoem, van toepassing is, sal daar weinig meer negatiewe gevolge vir die voëls wees, of hulle nou met lood- of staal-hael gejag word.  Selfs die inname van lood haelkorrels, wat as kos/sade aangesien mag word, vanaf die bodems van waterliggame deur voëls, behoort dan geen negatiewe effek op die gesondheid van voëls te hê nie.  Kom ons hoop navorsing hieroor sal binnekort hieroor antwoorde kan gee.  



Comment

No Very




Captcha Image

Outdoor World
Margot Swiss
Outdoor World