Print

Nagedink oor lewe

09-Jul-2015

 

Dit is wintertyd en vakansietyd…tyd vir jag en toer na pragtige plekke.  Jagte is gereël, akkommodasie in wildtuine en vakansieoorde is bespreek en daar heers opgewondenheid onder jagters en natuurliefhebbers oor dit wat vir hulle voorlê. En dit is reg so, maar daar is egter sommige van ons lede vir wie hierdie dinge nie beskore is nie, vanweë siekte en ander probleme. Kom ons dink aan ons makkers in hierdie tyd en dra hulle aan die Skepper op terwyl ons bevoorreg is om gesond te wees en in staat is om die mooi dinge te  geniet.

 

Nagedink oor Lewe

“Why do bad things happen to good people?”  Vir baie van ons is dit ‘n oorbekende vraag.  Mens kan selfs die vraag omdraai en vra: “Why do good things (always) happen to bad people?”  Van watter kant af mens ookal die vraag vra, die implikasie daarvan is dat ons, wanneer dinge vir ons verkeerd loop,  die lewe dikwels as onbillik en onregverdig ervaar.  Mens voel soms lus om te vra: “Waarom?  Waarom ek?” 

 Dit is baie interessant om te sien dat die Denkers deur die eeue soms radikaal verskil het oor die antwoord op dié moeilike vraag.

So redeneer Gottfried Leibniz, ‘n Duitse filosoof uit die 18de eeu, wat allerweë beskou word as die vader van die Optimisme, dat hierdie wêreld die beste denkbare moontlikheid is.  Omdat hierdie werklikheid deur ‘n goeie God geskep is, moet die lewe in beginsel goed wees.   

Daarteenoor  redeneer Arthur Schopenhauer weer, ‘n ander Duitse filosoof uit die 19de eeu, wat allerweë weer beskou word as die vader van die Pessimisme, dat hierdie wêreld die slegste denkbare moontlikheid is – al wat mens derhalwe van hierdie wêreld kan verwag is pyn en ellende.

Ons ervaring met die werklikheid lê waarskynlik op ‘n lyn iewers tussen die twee teenoorgestelde lewensbeskouinge: die lewe is nou wel nie altyd maanskyn en rose nie, maar alles is darem ook nou weer nie altyd so sleg nie.

 Wanneer mens in die Bybel na ‘n anwoord op dié moeilike vraag gaan soek, kry mens weer, ek wil amper sê, ‘n paradoksale prentjie.

Vat byvoorbeeld die verhaal van Job.  Met die knip van ‘n oog verloor hy alles wat hy besit het: sy boerdery, sy kinders, sy gesondheid en uiteindelik sy vrou.  Oornag word Job se lewe tot benede bestaansminimum gereduseer.  Sy gevolgtrekking is verbasend: “die Here het gegee en die Here het geneem.  Prys die naam van die Here.”

Blaai mens egter net ‘n entjie veder na die verhaal van Prediker, hoor jy presies die teenoorgestelde ding.  Prediker het alles gehad wat ‘n mens se hart kan begeer: geld en grond, vee en vrouens, vreugde en voorspoed.  Sy gevolgtrekking is ewe verrassend:  “Alles kom tot niks – dis ‘n gejaag na wind!”           

Die teenstelling tussen dié twee verhale is helder: wanneer Job alles onder die son verloor, het hy bokant die son nog iets; Prediker besit alles onder die son, maar bokant die son niks.  Vir Job het die lewe betekenis; vir Prediker is die lewe sinloos.

 Die bekende en suksesvolle (skatryk) tennisster, Novac Djokovic, het onlangs in ‘n dokumentêre program ‘n belangrike ding gesê wat ons dalk uit ‘n ander hoek in die rigting van ‘n antwoord op dié moeilike vraag help.  Hy sê eendag gaan alles wat jy was, en wat jy besit het, en waarvoor jy bekendheid verwerf het, tot ‘n einde kom.  So, waaraan kan die waarde van jou lewe derhalwe gemeet word?  Daar is net een ding: watter verskil het jou bestaan aan ander mense se lewens gemaak – aan jou huweliksmaat se lewe, jou kinders se lewe, jou vriende se lewe, aan die samelewing.  Djokovic sluit af deur te sê: “Life lived that matters is not out of circumstance, but out of choice.”

 Die lewe is nie vanselfsprekend nie – leef dit bewustelik.

Die lewe is  nie vanselfsprekend nie – leef dit met oorgawe.

Die lewe is nie vanselfsprekend nie – leef dit met deernis teenoor mens, dier en natuur.  Dáárvoor sal mense jou eendag onthou...   

 

Floors Meyer

 

     



Comment

No Very




Captcha Image

Outdoor World
Margot Swiss
Outdoor World