Print

TOY WIID

14-Apr-2015

Toy Wiid (1956 – 2015)

 



Die windjie is skraal. Die half-droë doringhout gee so ‘n lastige rokie wat in die jagters se oë pla. Elke jagter se rug vries terwyl sy voorkant brand soos hulle onder die rooi gloed van die vuur inskuif. Die driemanskap uit die Suid-Kaap, Toy Wiid, Jos Smith en Basie Coetzee is stil totdat Toy die vraag vra: “Wat dink julle, moet ons nie ‘n jagtersvereniging vir die Suid-Kaap stig nie?” Skielik kom daar  lewe in die kamp , weg is die bewustheid van die rook en die koue . ‘n Enorme opgewondenheid het pos gevat…

Die Suid-Kaap Jagters- en Bewaringsvereniging word amptelik gestig op 31 Augustus 1991. Toy Wiid is die eerste voorsitter en lei die jong vereniging in sy eerste drie jaar. Hy word die outeur van die bosbok-logo, reël die eerste junior jagopleidingskursus, en is die eerste afgevaardigde na ‘n CHASA raadsvergadering. Toy word ook in 1995 SJB se eerste President, en in 1996 die Stem van SJB wanneer hy gereeld op Suid-Kaap Stereo gesels. In 2000 word hy vereer vir sy bydrae tot die stigting van SJB, wanneer erelidmaatskap aan hom toegeken word.

 ‘n Skraal windjie trek 25 jaar later weer deur ‘n kampvuur; hierdie keer die baie groter kampvuur van Suid-Kaap Jagters- en Bewaringsvereniging. Toy Wiid, stigter en vaderfiguur van SJB, is ons ontneem. Die boer van Groot-Brak en De Rust, eggenoot van Susan, en Pa van Francois en Bonita sal nooit weer onder die gloed van ‘n jagtersvuur inskuif nie.

 SJB kyk na sy nalatingskap met dankbaarheid; en groet ‘n groot gees wat in die wêreld van jagters ‘n enorme spoor gelaat het.



Comment

No Very




Captcha Image

Outdoor World
Margot Swiss
Outdoor World