Print

Leesstof en Artikels

JUNIOR JAGOPLEIDING 2016

Suidkaap Jagters - Wednesday, November 09, 2016

JUNIOR SKIETOPLEIDING

Die afgelope skoolvakansie was weer ‘n bedrywige en opwindende tyd vir 20 hoërskoolseuns wat ingeskryf het vir die gewilde junior jagopleidingskursus, aangebied deur die Suid-Kaap Jagters- en Bewaringsvereniging (SJB) Op Donderdag 6 Oktober het hulle opgedaag uit alle oorde, selfs sover as Pretoria, Rietbron, Carnavon, Gansbaai, Paarl en  die ander uit die George/Mosselbaai en omliggende dorpe vir die eerste been van die kursus, nl. intensiewe skietopleiding.

Die kursus is aangebied op Kouma, ‘n plaas in die Mosselbaai distrik. Die doel van die kursus is om junior jagters op te lei in veilige en praktiese vuurwapenhantering, versorging van vuurwapens, hoe om ‘n teleskoop te monteer en die wapen dan  in te skiet en veral om hulle op te lei in skietkuns.  Laasgenoemde aspek   het baie aandag geniet, want sommige seuns het vir die eerste keer in hul lewens ‘n vuurwapen hanteer. Die kursus moet geslaag word vir toelating tot die tweede been van die kursus , nl. praktiese jagopleiding volgende jaar in die Noord-Kaapse Kalahari.  Die standaard van skiet is baie hoog, met ‘n 80% vereiste slaagsyfer, want om eties te kan jag, moet jy goed kan skiet en is skootplasing van kardinale belang. Die kursus voldoen ook aan vereistes vir toegewyde jagter status en is deur CHASA (Jagterskonfederasie van SA)  aanvaar as nasionale standaard vir junior jagopleiding en is ook deur SAPD goedgekeur.

Duisende skote is deur die loop van die naweek afgevuur en elke junior is skoot-vir-skoot deur opleidingsbeamptes van die vereniging gemonitor en reggehelp totdat almal tevrede was en die seuns kon begin met die  kwallifiserende skiettoets op die voorgeskrewe rooibokteiken. Al die seuns het geslaag met ‘n gemiddelde slaagsyfer van 93%.

So tussen die skietery deur is aandag gegee aan jagetiek,etiket en ervare mentors het die juniors deurlopend gepeper met nuttige wenke  en sodoende alle aspekte van die jagkultuur met hulle gedeel. Hulle is huis toe gestuur met die opdrag: ``as julle nie weet wat om te doen nie, skiet!``, want soos met enige sportsoort is die resep vir sukses: gereelde oefening en tegniek.

Die jongspan tydens verwelkoming

Fermi Meyer (links) en Dirk Black help een van die studente

Hanré Botha al die pad van Pretoria ontvang sy sertifikaat by kursusleier Neels Meyer

JP Uys in aksie

Leras van Zyl by sy voltal

Studente onder deeglike toesig


Outdoor World
Bay Guns
Outdoor World