Print

Leesstof en Artikels

Rooi sand kameeldoring kampvure en dorings laat jong jagters se oe blink

Suidkaap Jagters - Friday, July 19, 2013

Op 21 Junie vertrek vyf volgelaaide bakkies met ‘n opleidingspan van agt volwassenes en veertien junior lede van die Suid-Kaap Jagters- en Bewaringsvereniging(SJB) na die Noord-Kaapse Kalahari vir die tweede been van praktiese junior jagopleiding. Die groep junior lede van die vereniging het reeds as laerskoolleerders die Veldskool oor 3 dae asook die Skietkliniek oor 4 dae, onder bekwame en entoesiastiese opleidingsbeamptes deurloop. Hierdie laaste kursus bied die geleentheid aan elke student om onder mentorskap sy voorsitplek te kon kies en voorberei, eie springbok kon skiet, reg ontwei, na die jag kan afslag, uitmekaar maak, asook die proses van bewerking kon deurloop, nl., vleismeul draai, derms losknoop , maalvleis voorberei , self wors stop en te verpak.

Die Nasionaal erkende kursus wat deur SJB ontwikkel is en aan die ander verenigings via CHASA (Jagterskonfederasie van SA) beskikbaar gestel is, en wat in die Noordkaapse Kalahari aangebied is, bied die geleentheid aan studente wat die praktiese sowel as die teoretiese gedeeltes van die kursus suksevol aflê, om hul Chasa -erkende sertifikaat te verwerf. Met hierdie sertifikaat in die hand, kan hulle registreer as Toegewyde Jagters waarna hulle reeds op ouderdomme jonger as een- en twintig jaar (soos deur die vuurwapenwet voorgeskryf) ‘n vuurwapen kan aankoop.

Kursusmateriaal omsluit die volledige noodsaaklikhede vir ‘n suksesvolle jagtog; vanaf die beplanning van die jagtog tot die wors in die pakkie. Alles word prakties en in die veld aangebied terwyl kampvuurstories om ‘n gesellige kameeldoringvuur heimwee van vervloë dae oproep.

Die veilige en oordeelkundige hantering van ‘n wapen vorm ‘n integrale deel van die opleiding, maar ewe belangrik is opleiding in die ekologiese en volhoubare benutting van die natuur. Hier word aandag geskenk aan die skade aangerigdeur ‘n voertuig onoordeelkundig te gebruik in eko sensitiewe gebiede, die beskerming van flora en fauna asook voorkoming van besoedeling van waterbronne.

Vir ‘n week lank het die junior jagters en hul mentors die koue nagte in ‘n tentekamp op ‘n pragtige deel van die bekende jagplaas HEUNINGKRANS in die Griekwastad distrik trotseer en in die oggende, lank voor sonop, styf van die koue, maar blinkoog van uitsien na wat die dag gaan oplewer, by die kampvuur met ‘n beker koffie in die hand, kom ontdooi.

Die Suid-Kaap Jagters- en Bewaringsvereniging wil van hierdie geleentheid gebruik maak om alle borge en rolspelers wat dit weer eens moontlik gemaak het om studente wat in die natuur belang stel , ‘n verreikende jagopleidingsessie in die Kalahari te kon laat ervaar.

Ons dank aan: ons borge: Ceres Sap, Quality Beverages, Prima Gas, Snyders Ingeboude Kaste, Plettenberbaai Groente en Vrugte, Eden Bio Fuels, Margot Swiss, Bay Guns, Stahl Handgemaakte messe en verskeie kontant donateurs wat hierdie unieke ekskursie bekostigbaar en moontlik gemaak het. ‘n Veer in die hoed vir die toegewyde en bekwame werk van die opleidingsspan: Alvin Hayes, Wouter Marais, Johan en Riana Lindeque, Len en Mona Nel en Neels en Elma Meyer.

Tydens die eerste gedeelte van die kursus in Oktober verlede jaar, is opnames gemaak vir die nuwe natuurprogram WILD EN WRAGTAG en dit word op 25 Julie om 21:30 op KYKNET uitgesaai.

Vir meer inligting rakende junior jag- en veldopleiding kan Neels Meyer geskakel word by: 0828248603.

     

 
 Elma Meyer en die kosspan aan diens in die veldkombuis
  Goed gekamofleer 

     

  
Leerwerk vir messakkies

  Mooi Sieg man

     

 
Richter Swanevelder besig om sy springbok te verwerk


Vroegoggend om die kampvuur


Outdoor World
Bay Guns
Outdoor World