RAin Veldskiet 12 Maar 2022


Die Suid-Kaap Jagters- en Bewaringsvereniging (SJB) se veldskietkompetisie van Saterdag 12 Maart op die plaas Nooitgedag, in die Oudtshoorn distrik, is een wat nie ligtelik vergeet sal word nie.

Nadat die bane op Vrydag voorberei was, het ‘n hewige donderstorm wat met sterk wind gepaard gegaan het van die bane nutteloos gemaak. Daar moes inderhaas nuwe teikens op Oudtshoorn bekom word, maar hoewel van die voertuie vasgeval het kon die skuts darem die skietpunte per voet bereik.

Met baie innoverede skietposisies moes die deelnemers drie ghong bane en drie papierteikenbane  oor wisselende afstande aandurf.

Die veldskietkompetisies vind al meer byval by die dames en junior skuts. Saterdag sal verder onthou word vir die deelname van ‘n penkop, Darian Du Plooy (9jaar). Vir diegene wat onder die indruk was dat hy eintlik nog net groot genoeg was om met ‘n windbuks te skiet, het daar ‘n groot verrassing gewag. Uit ‘n total van 62 skuts het Darian die 19 de plek behaal. Kom ons soek maar liewer nie verskonings nie. Dit is briljant en ‘n pluimpie vir sy pa wat hom afrig.

Ook interessant is dat die wenner van die junior afdeling (Amorette Smit) algeheel 2de was en die wenner van die dames afdeling (Ronel Marx) algeheel 3de.

Die skietdag is geborg deur RAiN Geoktrooieerde Rekenmeesters en hulle waterpunt was ‘n wenner en die lafenis van yskoue water op ‘n snikhete dag het groot byval gevind. Die pryse aan die wenners en die groot aantal gelukkige trekkings het ook gesorg dat daar ‘n bietjie van die hitte vergeet word.

Ten spyte van die sonbrand en uitdagende skietposisies, was daar ‘n gemoedelike atmosfeer tussen die skuts. Ons bedank Koos Potgieter & sy gesin wat hul plaas Nooitgedag beskikbaar gestel het vir die skietdag, en so ook al die baanoffisiere wat in moeilike omstandighede die skietdag vlot laat verloop het. Baie dankie ook aan RAiN Geoktrooieerde Rekenmeesters vir hulle groot bydrae.

Die wenners van die dag was as volg :

OPE AFDELING : Hein de Swardt (1ste), Christo Delport (2de), Raynor Becker (3de)

JUNIORS : Amorette Smit (1ste), Marco Marx (2de), Erik Zeelie (3de)

DAMES : Ronel Marx (1ste), Zoey Botha (2de), Janine Nigrini (3de)

VETERANE : Johan Fourie (1ste), Hennie Bester (2de), Piet van Wyk (3de)

PENKOPPE : Darian du Plooy

Sat, 12 Mar 2022