SSK Veldskiet 2019


Suid-Kaap Jagters- en bewaringsvereniging (SJB) het in samewerking met Sentraal Suid Kooperasie (SSK) die eerste groot skietdag van 2019 op die plaas Kweekkraal in die distrik van Riversdal aangebied.

Die dag is gekenmerk deur ideale skietdagweer en ‘n goeie opkoms van lede wat van heinde en ver gekom het. Daar was in vier afdelings meegeding, nl. Ope klas, Junior klas, Dames klas en Veterane klas. Die uitstekende pryse was hoofsaaklik geborg deur SSK. Behalwe vir die pryse wat deur die klaswenners gewen is, was ‘n groot aantal pryse ook deur gelukkige trekkings uitgegee. Dit het meegebring dat ieder en elkeen in lyn vir ‘n prys gekom het. Een illustrasie van die gees wat onder die deelnemers geheers het was ‘n deelnemer wat kom voorstel het dat daar volgende jaar ‘n teiken beskikbaar moet wees vir bajonetsteek. Dit sal hom die geleendheid bied om beter te presteer. Ons oorweeg dit om ‘n skrywer te soek en aan te stel om al die verkonings wat na vore gekom het vir swak skote, te boekstaaf . . . dit behoort ‘n blitsverkoper te wees!

Die wenners was as volg:

Opeklas:

  1. Raynor Becker
  2. Niaan Fourie
  3. Fermi Meyer

Juniorklas:

  1. Anke Kemp
  2. Petru Steyn
  3. Anlo Ferreira

Damesklas:

  1. Junita van Zyl
  2. Ronel Marx
  3. Deane Kapp

Veterane:

  1. Niel Basson
  2. Johan Fourie
  3. S.J.G. Schlechter

Die bestuur van SJB bedank graag vir SSK vir hulle voortgesette ondersteuning om die skietsport lewendig te hou en te bevorder. Verder bedank die bestuur graag vir Francois Malherbe vir die gebruik van sy plaas. Die manne wat die hardste werk en die meeste kritiek moet verduur is gewoonlik die baanoffisiere,  bestuur wil graag laasgenoemde persone bedank vir hulle bereidwilligheid om in sulke omstandighede te dien. Sonder die bydra van die genoemdes sal so ‘n projek nie met die mate van sukses wat behaal is kan gebeur nie. Nogmaals baie dankie! Daar was ook ‘n gelukkige trekking uitsluitlik vir die baanoffisiere en SJB bedank Handelshuis, Riversdal vir die skenking wat hulle gemaak het.

Op 6 April 2019 word die Wildman geborgde veldskiet naby Oudthoorn aangebied. Vir meer besonderhede skakel die SJB kantoor by 044 695 2319.

Skiet Dag Gallery

Thu, 21 Feb 2019