Wildman skietdag te Nooitgedag


Suid-Kaap Jagters- en Bewaringsvereniging se veldskietkompetisie geborg deur Wildman het op 6 April 2019 op die plaas Nooitgedag net buite Oudtshoorn plaasgevind.

Om die dag net as 'n suksesvolle skietdag te beskryf sal beslis neerkom op 'n geringstelling. Dit was 'n fantastiese skietdag met uitstekende resultate, geskiedkundige gebeure, verrassings en bowenal 'n openbaring.

Wildman se borgskap, gerugsteun deur Hornady, het soos gewoonlik nie teleur gestel nie en hul advertensie materiaal in die plaasdam het sommer 'n lekker atmosfeer geskep. Almal het ook 'n kans gestaan om by wyse van 'n gelukkige trekking pryse te wen.

Die opening is behartig deur die vereniging se president Louis Welman. Hy het aangekondig dat daar as 'n proefneming, vir die eerste keer 'bosbok lammetjies', kinders onder 12 jaar, aan die kompetisie sou deelneem. Hierdie aankondiging is met 'n groot handeklap begroet.

Ouder gewoonte is daar op 6 bane meegeding en daar is van skuts verwag om op verskillende afstande uit die staan, sit en lê posisies teikens en staalplate (gongs ) te skiet. Die baanuitleg was ook uniek omdat alle bane binne loopafstand van die parkeerarea geleë was. Genadiglik, was die temperatuur baie matig en van wind was daar feitlik geen sprake. Die gongbane het ook 'n goeie uitdaging gebied deurdat die gongs oor 'n wye area versprei was en 'n skut daardeur verplig was om van posisie te verander.

Die administrasie is uit 'n karavaan onder die doringbome behartig en hierdie einste doringbome het baie welkome skaduwee gebied tydens die prysuitdeling. Indien enige iemand sou beweer dat die skietsport nie 'n gesinsport is nie, sou darem maar vinnig Saterdag die woorde moes sluk.

Tydens die kompetisie was die oudste deelnemer 78 jaar oud, sy seun het deelgeneem en sy kleinseun van 12 jaar oud het ook deelgeneem. Daar was egpare, pa en seun, pa en dogter, pa met seun en dogter asook broer en suster.

Die prysuitdeling was baie interressant.

Die hoogste telling is behaal deur die junior, Leras van Zyl wat ook die juniorafdeling gewen het, met Anlo Ferreira tweede en Marco Marx in die derde plek.

Junita van Zyl het gesorg dat die familienaam hoog gehou word en het die damesafdeling gewen met Janine Nigrini in die tweede en Ronel Marx in die derde plek.

Die veterane afdeling is gewen deur Neil Basson met Johan Fourie in die tweede en James vd Linde in die derde plek. Die afdeling van die Bosbok lammetjies (12jaar en jonger) is gewen deur Izel Delport met 'n telling van 445,1 uit 'n moontlike 900 punte, kort op haar hakke was haar broer Christof Delport met 'n telling van 420 en in die derde plek was Roux Delport (sy oupa was 2de in die veterane afdeling).

Die eerste twee lammetjies se pa, Christo Delport, het gewys waar hul talent vandaan kom deur met die goue medalje in die senior afdeling weg te stap. Niaan Fourie was tweede en Jacques du Plooy derde.

Die Suid-Kaap Jagters- en Bewaringsvereniging het reeds 'n geskiedenis van senior sowel as junior lede wat op Nasionale vlak met die louere wegstap en dit was 'n openbaring om te sien met watter selfvertroue die kinders onder 12 jaar, die vuurwapens hanteer. Dit is natuurlik 'n pluimpie aan die ouers wat met soveel geduld en ondersteuning die kinders afrig. SJB het groot dank en waardering aan die borge wat dit moontlik maak om jaarliks die veldskiet aan te bied. Die gelukkige trekkings skep ook 'n gelyke geleentheid aan almal om 'n waardevolle prys te wen. Hierdie jaar was dit toevallig die nommer van Leras Van Zyl, wat die teleskoop ter waarde van R15 000 gewen het.

SJB wil ook van die geleentheid gebruik maak om lede en nie-lede uit te nooi na die Bay Guns geborgde skietdag op 27 April 2019 te Prince Albert. ’n Junior skietkliniek word ook op 5 Mei aangebied by die Wouter de Vos skietbaan te Kleinbrakrivier.

Vir meer besonderhede kan die kantoor geskakel word by 044 695 2319, e-pos info@suidkaapjagters.co.za of vir Fermi Meyer by 072 444 8236 (vir die junior skietkliniek).

Wildman Skiet Dag Gallery

Wed, 10 Apr 2019