Genotvolle Veldskiet te Prince Albert - Bay Guns


GENOTVOLLE VELDSKIET TE PRINCE ALBERT

BAY GUNS het die Suid-Kaap Jagters- en Bewaringsvereniging se veldskietkompetisie geborg wat op   die plaas Rietfontein in die Prince Albert-distrik plaasgevind het.

Toevallig het hierdie kompetisie plaasgevind op Vryheidsdag en ek wil my verstout om te sê, daar is seker min plekke waar ‘n mens meer vry kon voel as Saterdag op hierdie plaas. Die uitgestrektheid van die Karoo se vlaktes, met helder blou lug, die reuk van die gewere se kruit en die samesyn met mede entoesiaste wat die dag geniet, kan nie in geldwaarde gemeet word nie.

So tong-in-die-kies word die woord “ontspan“, nie gebruik nie en wel omdat die bane vir baie van die skuts veel eerder spanning as ontspanning tot gevolg gehad het!

Die kompetisie het uit drie ghong-bane en drie papierteiken-bane bestaan. Veldskiet voorspel mos altyd moeilikheid, want die gemak van die skiettafel op die skietbaan ontbreek. Daar is bv. van skuts vereis om oor ‘n boomstomp na die ghongs te skiet, oor die driepoot-stokke te skiet, om met ‘n tweepoot te skiet en ook om vryhand sonder enige rus te skiet.

Soms dink ‘n mens dat dit wraggies net geluk is om sommige van die teikens te tref, maar dan kom die tellings uit en besef ‘n mens net weer hoeveel talentvolle skuts daar in die geledere van die Vereniging is. Onwillekeurig dink ek aan die gesegde; “hoe meer jy oefen, hoe gelukkiger word jy”.

Die pryse, geborg deur BAY GUNS is aan die eerste, tweede en derde plekke van die verskillende afdelings oorhandig. In die Ope afdeling was Jacques du Plooy eerste, met Johan du Plooy in die tweede en Danie Barnard in die derde plekke. Die dames afdeling is gewen deur Junita van Zyl, met Janine Nigrini tweede en Ronel Marx derde. In die junior afdeling het Leras van Zyl die eerste plek behaal met Anlo Ferreira tweede en Marco Marx derde. Interessant om te sien dat ma-en-seun die eerste plekke in die dames- en junior afdeling behaal het, en ma-en-seun het ook die derde plekke in die dames- en junior afdeling behaal. In die veterane afdeling was Johan Fourie eerste, Piet van Wyk tweede en Arthur Lilford derde. Dit was ook verblydend om te sien dat daar weer deelnemertjies was in die “bosboklammetjie-afdeling” (12jaar en jonger). In hierdie afdeling was Christof Delport eerste, Roux Delport tweede en Izel Delport derde. Toevallig almal Delports met Christof en Izel wat boetie en sussie is.

Daar was ook die gelukkiges wie se nommers tydens die gelukkige trekking uitgeroep is en  aan hul ‘n prys besorg het.

‘n Groot dank aan alle betrokkenes. Hierdie genotvolle dag kon beslis nie plaasgevind het sonder die borgskap van Bay Guns, die bystand van Joseph en Ilze Steyn, die vrywilligers wat as baanoffisiere en beamptes opgetree het en die skuts wat die opoffering gemaak het om deel te neem nie.

Besoek gerus Suid-Kaap Jagters se webtuiste (www.suidkaapjagters.co.za) of stuur ‘n e-pos vir navrae oor toekomstige aktiwiteite wat deur die vereniging aangebied gaan word.

Thu, 09 May 2019