Veldskiet te Heidelberg


VELDSKIET TE HEIDELBERG

Suid-Kaap Jagters- en Bewaringsvereniging se jaarlikse SSK veldskiet het die afgelope naweek plaasgevind op die plaas Melkhoutdrift, naby Heidelberg.  Die pryse was deur Sentraal-Suid Koöperasie geborg, bo en behalwe die pryse vir die wenners, was daar ook verskeie gelukkige trekkings gehou om vir almal die geleentheid te gun om nie met leë hande huis toe te gaan nie. 

Die kompetisie het in ideale weersomstandidhede plaasgevind en die wind, wat een van die grootste vyande vir ‘n skut kan wees, was gelukkig afwesig tydens die kompetisie. Skuts van alle ouderdomme het deelgeneem en die oudste skut was Johan Fourie (80) en Inneke van Zyl (10) was die jongste skut. Inneke het ‘n goeie telling behaal en gewys dat daar baie potensiaal lê in ons jonger geslag.

Die kompetisie het oor 6 bane plaasgevind en afstande het gewissel vanaf 120 meter tot 400 meter. Nadat die laaste skote in die verte verdwyn het, het die deelnemers gesellig verkeer terwyl die uitslae verwerk is.

Die uitslae van die verskillende kategorieë was as volg:

Ope:                      1ste  Jacques du Plooy;  2de  Raynor Becker;  3de  Danie Barnard

Dames:                 1ste  Junita van Zyl;  2de  Ronél Marx;  3de Michelle Martin

Juniors:                1ste  Marco Marx;  2de  Erik Zeelie;  3de Marco van Staden

Veterane:           1ste  Jimmy Farnham;  2de  Arthur Lilford;  3de Piet Langner

SJB wil graag van die geleentheid gebruik maak om vir SSK te bedank vir die bydrae wat hulle maak om die skietsport in die Suid-Kaap lewendig te hou.  Dankie aan Dawie en Matthys Koch wat hulle plaas beskikbaar gestel het om die kompetisie  aan te bied, hulle het uit hulle pad gegaan om die fasiliteite betyds gereed te kry vir die kompetisie.  ‘n Groot dankie aan die baanoffisiere wat gesorg het dat alles vlot en veilig verloop het.  Dankie ook aan die dame wat gesorg het dat daar iets te ete en te drinke was. 

SSK Veldskiet uitslae

SSK Veldskiet gallery

SJB wil van die geleentheid gebruik maak om lede en nie-lede uit te nooi na die “Wildman” veldskiet wat gaan plaasvind op die 28ste Maart naby Oudtshoorn. Vir navrae kontak die kantoor : 044-695 2319, of stuur ‘n e-pos aan info@suidkaapjagters.co.za

Wed, 19 Feb 2020