NOOITGEDAG VELDSKIET 2021


Die Suid-Kaap Jagters- en Bewaringsvereniging (SJB) se veldskietkompetisie op Saterdag 10 April is weer aangebied net buite Oudtshoorn op die plaas Nooitgedag van Koos Potgieter. Die skietdag is geborg deur RAiN Geoktrooieerde Rekenmeesters van Danabaai, Mosselbaai.

Dit was ‘n welkome gesig om die water in die plaasdamme te sien, maar dit kon beslis nie op dié met koel lafenis geassosieer word nie!

Wat die teikens en skietposisies betref, was dit ‘n behoorlike allegaartjie.

Aan die westekant van die een dam is daar vryhand uit ‘n staande posisie na vlakvark-teikens geskiet. Dan kon die skuts op die damwal darem van ‘n driepoot gebruik maak om uit die staande posisie na die eerste stel ghongs te skiet. Die volgende baan was weer twee verskillende teikens waar die skut uit ‘n sittende of knielende posisie na ‘n springbok en jakkals moes skiet.

Aan die oostekant van die damme is verwag dat skuts oor motorbande uit ‘n sittende posisie na die rooibok en bobbejaan skiet en net langsaan, kon skuts uit die staande houding van ‘n stewige hout driepoot gebruik maak om na die blesbok te skiet.

Die laaste baan was letterlik ‘n perd van ‘n ander kleur. By hierdie baan moes skuts vanaf ‘n nagemaakte perd se rug, vyf ghongs skiet. Selfs al het die perd doodstil gestaan was daar gevalle waar die ghongs merkloos bly hang het.

Ten spyte van die sonbrand en uitdagende skietposisies, was daar ‘n gemoedelike atmosfeer tussen die deelnemers.

Vier en sewentig skuts het in verskeie afdelings meegeding ,nl  ope-, dames-, veterane- en  juniorafdeling  (seuns en dogters).

Die wenners was as volg :

  • Ope:  Renier van Greunen (1ste),  Niaan Fourie (2de), Christo Delport (3de)
  • Dames: Junita van Zyl (1ste), Ronél Marx (2de), Madelein Snell (3de)
  • Juniors: Marco Marx (1ste), Anke Kemp (2de), Izel Delport (3de)
  • Veterane: Arthur Lilford (1ste), Niël Basson (2de), Tom Theron (3de)

Suid-Kaap Jagters bedank hiermee die hoofborg van die dag, Kobie Human van RAiN Geoktrooieerde Rekenmeesters en so ook vir Francois Smit van BBG Engineering wat ‘n Night Furry suppressor ter waarde van R3400 geborg het vir die gelukkige trekking. ‘n Getroue ondersteuner van SJB se skietdae, naamlik Gert van Wyk was die gelukkige wenner van dié prys.

‘n Groot dank aan Koos Potgieter en sy gesin wat hul plaas beskikbaar gestel het en ook gesorg het vir ‘n heerlike middagete vir die skuts. Hul gasvryheid is een van die redes hoekom hierdie skietdag een van die gewildste skietdae op die SJB kalender is.

Telkaart

 

Tue, 13 Apr 2021